Maranatha Media: South Africa

Verlore Kind Gevind

525 Hits

Verlore Kind Gevind

Net soos daardie verlore seun
Wat by die varke eensaam ween
Is ek en jy vandag miskien
waar ons dalk geen meer hoop kan sien

Eens die Vaderhuis verlaat
Genot al waarvan ons wou praat
Die erfdeel is als uitgegee
En nou het ons geen vriende mee(r)

So diep in sonde vasgeval
In vêr land - in die dood se dal...
Maar een gedagte val my by
Is iemand dalk nog lief vir my?

Die wêreld kan my niks meer bied
Net sonde wat lei tot verdriet
Ek het besluit om terug te keer
En neem die pad t’rug huistoe weer

Ek sien my Vader wyl ek loop
Hy hardloop met sy arms oop
Ek is nie werd die naam van kind
Maar Vader het Sy seun gevind

‘n Feesmaal word nou voorberei
“want dood was hierdie seun van my
Hy is weer lewend, kom wees bly
Ek het my seun weer terug gekry”

Dit was die pad wat ek moes loop:
Van dood na lewe - tot alle hoop
Ek is uit sonde vrygekoop
Die hemel poorte staan nou oop

Genadige liefde genees my seer
Daar’s vreugde in die hemel weer
My hemel Vader neem my hand
“Welkom in die Kanaan land!”

~Brümilda vd Mescht
(13 November 2021)