Laai gerus die DOCX lêer van die traktaatjie hier af.
“Kyk wat ’n liefde die Vader aan ons betoon het dat ons kinders van God genoem kan word.”
1 Johannes 3:1.
Watter waarde gee dit nie aan die mens nie!
Deur die menslike natuur aan te neem, het Christus die mensdom verhef. Gevalle mense kan, deur verbinding met Christus, inderwaarheid die benaming, “seuns van God” waardig word. Sulke liefde is sonder weerga. Kinders van die hemelse Koning! Is dit nie ’n heerlike belofte nie! Watter verhewe onderwerp vir oorpeinsing! Die weergalose liefde van God vir ’n wêreld wat Hom nie liefgehad het nie! Hierdie gedagte het ’n versagtende invloed op die siel, en dit neem die hart gevange om die wil van God te doen. Hoe meer ons die Goddelike karakter in die lig van die kruis bestudeer, hoe meer besef ons die genade, barmhartigheid en vergifnis wat gemeng is met reg en geregtigheid, en hoe duideliker sien ons die ontelbare bewyse van ’n liefde wat oneindig is, en ’n ontferming wat die van ’n moederhart vir haar eiesinnige kind ver oortref.
Maak u behoeftes, u vreugde, u droefheid, u sorge en u vrees aan God bekend. U kan Hom nie daarmee belas of vermoei nie. Hy wat die hare van u hoof tel, is nie onverskillig omtrent die behoeftes van Sy kinders nie. “Die Here is vol medelyde en ontferming.” Jakobus 5:11. Ons smarte, ja selfs om dit aan te hoor, pynig Sy liefdevolle hart. Neem al u probleme na Hom. Niks is te groot vir Hom om te dra nie, want Hy hou die wêrelde in stand en Hy heers oor die ganse heelal.