Maranatha Media: South Africa

Berekening van Feesdae volgens die Karaite Kalender

gepos Mei 29, 2021 deur Nina Snyman in The Sabbath
438 Hits

Hierdie artikel verduidelik die berekening van die feesdae van die Here volgens die Karaite kalender deur bloot na die Bybel en na die Strongs konkordansie te verwys. Dit dien as ‘n handleiding om self die kalender uit te werk, wat die nodigheid uitskakel dat u wag op iemand anders om die feesdae vir die jaar uit te werk.

Skrifverwysings

Psalm 104:19 Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.

Open 12:1 En ‘n groot teken het in die hemel verskyn: ‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre;

Esegiël 46:1 So sê die Here HERE: Die poort van die binneste voorhof wat na die ooste kyk, moet gedurende die ses werkdae gesluit wees; maar op die sabbatdag moet dit oopgemaak word; ook moet dit op die dag van die nuwemaan oopgemaak word.

Handelinge 3:19 Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom,

Exodus 31:17 Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.

Maleagi 4:4  Dink aan die wet van Moses, my kneg, wat Ek hom beveel het op Horeb vir die hele Israel—insettinge en verordeninge.

Ons begin ons ondersoek by die opdrag om die feeste van die Here te vier:

Exodus 23:13-17 En in alles wat Ek julle gesê het, moet julle jul in ag neem. En die naam van ander gode mag julle nie vermeld nie; dit mag uit jou mond nie gehoor word nie.  (14)  Drie maal in die jaar moet jy vir My ‘n fees hou.  (15)  Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek—maar hulle mag nie met leë hande voor my aangesig verskyn nie;  (16)  verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel.  (17)  Drie maal in die jaar moet al jou manspersone voor die aangesig van die Here HERE verskyn.

Daar is drie plekke in die Pentateug waar die feeste van die Here uiteengesit en verduidelik word:

  1. Levitikus 23, waar die bepaling van elke feestyd uiteengesit is (wanneer die feesdae plaasvind)
  2. Numeri 28, 29, waar die brandoffers en spysoffers uiteengesit is vir elke fees
  3. Deuteronomium 16, waar ‘n samevatting van die feeste gevind word.

Daar is baie ander plekke in die Bybel waar daar na die feeste van die Here verwys word, maar hierdie drie plekke is vir my die belangrikste hoofstukke om helderheid omtrent kwessies rondom die feeste uit te klaar.

Hoe word die begin van die jaar bepaal?

Genesis 1:14,16  En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye [feestye], asook vir dae sowel as jare.  …  (16)  God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre.

Psalm 104:19 Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.

Hierdie verse dui aan dat die son en maan deel vorm van die Vader se uurwerk om seisoene te bepaal vir beide die fisiese en die geestelike wêreld. Genesis kan nie verwys na die seisoene van somer, herfs, winter en lente nie, want in die Tuin van Eden was daar ‘n egalige klimaat dwarsdeur die jaar. Dus moet hierdie bepaalde tye of seisoen na geestelike tye wat deur God bepaal is, verwys.

Die bybel dui die begin van die jaar aan, wanneer die opdragte omtrent die heel eerste Pasga gegee word, tydens die uittog uit Egipte:

Exodus 12:2, 3, 6  Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees.  (3)  Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin.  … (6)  En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.

Die Hebreeuse word vir maand en vir nuwemaan is dieselfde woord. Dus val die begin van die maand saam met die nuwemaan, wanneer die nuwemaan gesien kan word. Volgens die geleerdes in die Hebreeuse taal sal die bewoording van Exo.12:2 sodanig van aard wees dat daar verwys word na die nuwemaan wat GESIEN kan word. Dit is die enigste skriftuurlike opdrag  (waarvan ek bewus is) wat aandui dat ‘n klein stukkie van die nuwemaan GESIEN moet word om die begin van die nuwe maand aan te dui. Die dag waarop die nuwemaan waargeneem word, is die eerste dag van die maand. Gewoonlik is die nuwemaan sigbaar net nadat die son ondergegaan het, en vir die bybelse dag, wat van aand tot aand val, sal die volgende dag die eerste van die maand wees.

Hoe word hierdie eerste maand, wanneer die Pasga gevier word, elke jaar bepaal?

Exodus 23:15 Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek—maar hulle mag nie met leë hande voor my aangesig verskyn nie;

Deutonomium 16:1 Onderhou die maand Abib en hou pasga vir die HERE jou God; want in die maand Abib het die HERE jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei.

Wat is Abib?

Exodus 9:31 En die vlas en die gars was weggeslaan, want die gars was in die aar [Abib] en die vlas in die knop.

Die Strongs Konkordansie verduidelik Abib:

From an unused root (meaning to be tender); green, that is a young ear of grain; hence the name of the month Abib or Nisan: - Abib, ear, green ears of corn.

Dus verwys Abib na die gars wat in die aar is en wat ryp word, wat die beweegoffer is tydens die Fees van Ongesuurde Brode. Dus moet ons vasstel wanneer die gars-oes gereed is vir insameling, om die eerste maand van die jaar te bepaal. Enige boer sal kan aandui dat gars-oeste afhanklik is van weer en reën, en op verskillende plekke op aarde op verskillende tye ryp word. Om die begin van die Vader se jaar vir ons wêreld te bepaal, beperk ons dit na die oes in Israel. In hierdie tye, noudat mense begin belangstel om die feestye van die Here te vier, het daar mense in Israel opgestaan wat die gars-oes van jaar tot jaar ondersoek op verskillende plekke in Israel. Ten spyte van gevaarlike omstandighede gaan hulle uit na verskillende plekke van die land Israel en doen verslag omtrent die gars-oes. Dit staan elkeen vry om hul eie oordeel te volg na aanleiding van die verslae, sodat elkeen self bepaal watter maand die eerste maand van die jaar is. Persoonlik volg ek, wat geen agtergrondkennis het van gars of oeste, hierdie verslae. Dit word in eenvoud saamgestel, sodat die leek ook kan verstaan. Dit word beskikbaar gemaak op facebook vir enigeen om dit te gebruik.

U is welkom om in te teken op Devorah’s Date Tree op facebook, wat behoort aan Devorah Gordon, sodat jy self haar nuusbrief en maandelikse verslae ontvang.

Dit is interessant dat die Hebreeuse woord vir “jaar” bestaan uit drie letters:

  1. Die eerste letter verteenwoordig ‘n stel tande
  2. Die tweede letter stel ‘n saad voor
  3. Die derde letter stel ‘n man voor wat sy arms waai

Die begin van die Joodse jaar word dus bepaal deurdat ‘n saad tussen die tande geplaas word om te bepaal of dit gereed is vir die oes, en daarna word die arms (dalk met gerwe) gewaai. Dit bly vir my ‘n wonder dat God nie ‘n bepaalde jaar aangedui het wanneer die tweede koms van Christus sal plaasvind nie. Dit is asof die begin van elke jaar in die Joodse kalender hierdie onsekerheid weergee: God wag vir die menslike en geestelike oes om gereed te word vir insameling voordat die einde van die tye sal aanbreek.

Ek vind nie Bybelse aanduidings dat die eerste maand van die jaar bepaal word deur die jaarwisseling oor 22 Maart nie. Om dit te verklaar, moet ek buite-Bybelse bronne bestudeer.

Nadat ons die begin van die jaar vasgestel het, kan ons die res van die feesdae vasstel. Dit is opmerklik dat die Sabbatdag ook ‘n feesdag en ook ‘n heilige vierdag is:

Levitikus 23:2-3 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste dit is my feestye.  (3)  Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ‘n dag van volkome rus, ‘n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie dit is ‘n sabbat van die HERE in al julle woonplekke.

Die Pasga

Levitikus 23:4,5 Dit is die feestye van die HERE, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd.  (5)  In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die HERE.

Op die 14de van die maand, word die Pasga-lam geslag. Dit word in die middag gedoen, sodat die lam daardie aand, wat dan reeds in die 15de dag van die maand is, geëet word. Dit klink in teenstelling met die duidelike aanwysings dat die Pasga op die 14de van die maad val. Vir duidelikheid hieroor gaan ons na die tyd van Jesus se aardse bediening om die presiese tyd van die Pasga te bepaal.

Mattheus 26:17 En op die eerste dag van die ongesuurde brode kom die dissipels na Jesus en sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons vir U klaarmaak om die pasga te eet?

Markus 14:12 En op die eerste dag van die ongesuurde brode, wanneer hulle gewoonlik die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan klaarmaak, dat U die pasga kan eet?

Lukas 22:7-8 En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word.  (8)  Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet.

Hier vra Jesus sy dissipels om voorbereiding te doen vir die fees, op die eerste dag van die fees, waar hier verwys word na beide die Pasga en die week van Ongesuurde Brode, as een feestyd. Jesus vra vir die voorbereiding van die Pasga-maaltyd, waarna ons verwys as die Laaste Avondmaal, waartydens Jesus die voetwassing en nagmaal ingestel het. Meeste mense verstaan dat hierdie maaltyd op die Donderdagaand plaasgevind het, die dag voor Christus se kruisiging op die Vrydag.

Die verse uit die Nuwe Tesament word bevestig met hierdie vers:

Deuteronomium 16:1,6  Onderhou die maand Abib en hou pasga vir die HERE jou God; want in die maand Abib het die HERE jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei… (6) Maar op die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, moet jy die pasga slag, in die aand teen sononder, op die tyd van jou uittog uit Egipte. (7) Dan moet jy dit kook en eet …

Ongesuurde Brode en Eerstelinggerf

Levitikus 23:10-11 Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring.  (11)  En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.

Hier word verwys na die eerstelinggerf wat beweeg word voor die Here. Dit moet gedoen word die dag na die sabbatdag. Hierdie eerstelinggerf verwys na die gars-oes, aangesien die eerste maand van die jaar (Abib) juis gekies word as die maand waartydens die gars-oes ryp word en ingesamel kan word. Verdere instruksies lui as volg:

Levitikus 23:6-8  en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die HERE; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet.  (7)  Op die eerste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.  (8)  Maar julle moet sewe dae lank aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Op die sewende dag moet daar ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.

Hier word melding gemaak van heilige vierdae. Dit is iets anders as die weeklikse sabbatdae. Dit is belangrik om op te let dat die weeklikse sabbatdag ook ‘n heilige vierdag is.

Levitikus 23:3 Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ‘n dag van volkome rus, ‘n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie dit is ‘n sabbat van die HERE in al julle woonplekke.

Die eerste en laaste dag van die Ongesuurde Brode is nie ‘n sabbatdag is nie. Op die eerste en laaste dag van ongesuurde brode, wat heilige vierdae genoem word, word vereis dat geen beroepswerk gedoen word.

Om die datum van die volgende fees, die Pinksterfees, vas te stel, word daar verwys na die weeklikse sabbatdag, wat êrens in die week van Ongesuurde Brode wel sal val.

Levitikus 23:10,11 Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring.  (11) En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.

Die dag na die sabbatdag, wat ‘n Sondag sal wees, binne die week van die Ongesuurde Brode, is ‘n werksdag vir die Jode, wanneer die oes-insameling gedoen word. Een van die gerwe word deur die priester na die tempel gebring om voor die Here te beweeg. Dit is belangrik om op te let dat daar nie in Lev 23:11 verwys word na die eerste of laaste dag van die Ongesuurde Brode nie, want daardie twee dae is heilige vierdae, nie sabbatdae nie.

Pinksterfees

Die Pinkterfees is direk gekoppel aan die week van die Ongesuurde Brode, want die dag wanneer die eerstelinggerf beweeg word voor die Here, is die dag waarvandaan 50 dae getel word om die datum van die Pinksterfeesdag te bepaal:

Levitikus 23:15-16 Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring sewe volle weke moet dit wees;  (16)  tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die HERE bring.

Levitikus 23:21 En julle moet op daardie selfde dag uitroep: ‘n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is ‘n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte.

Die Pinksterdag sal dus altyd op ‘n Sondag val. Die dissipels van Jesus het op hierdie dag bymekaargekom om te bid, toe die uitstorting van die Heilige Gees plaasgevind het:

Handelinge 2:1-2 En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.  (2)  En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het…

Fees van Tompette

Levitikus 23:24-25 Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ‘n rusdag [Sabbat] wees, ‘n gedenkdag deur basuingeklank, ‘n heilige vierdag.  (25)  Géén beroepswerk mag julle doen nie…

Die Sewende Maand bevat drie feeste. Die eerste is die dag van die maand is die van die fees van die Trompette. Hierdie feesdag is beide ‘n sabbat en ‘n heilige vierdag. (Sien die King James Bible of Strongs Konkordansie om die korrekte vertaling van die woord vir “rusdag” hierbo te verkry.)

Versoendag

Die tiende dag van die sewende maand is Versoendag. Sien Lev.16 vir ‘n volledige uiteensetting van die dag se vieringe.

Levitikus 23:27, 32  Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ‘n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die HERE ‘n vuuroffer bring.  … (32)  ‘n Dag van volkome rus [Sabbat] moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Op die negende van die maand in die aand, van aand tot aand, moet julle jul sabbat hou.

Die Versoendag word in die oorspronklike Hebreeus as ‘n sabbatdag aangedui in Lev 23:32. Dus is die Versoendag beide ‘n heilige vierdag en ‘n sabbatdag.

Huttefees

Die Huttefees vind plaas vanaf die 15de dag van die sewende maand.

Levitikus 23:34-36 Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die HERE.  (35)  Op die eerste dag moet daar ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.  (36)  Sewe dae lank moet julle aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees, en julle moet aan die HERE ‘n vuuroffer bring. Dit is ‘n feestyd; julle mag geen beroepswerk doen nie.

Levitikus 23:39 Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van die HERE sewe dae lank vier; op die eerste dag is dit rusdag [Sabbat], en op die agtste dag is dit rusdag [Sabbat].

Hier word aangedui dat die eerste en agste dag van die Huttefees Sabbatdae is, asook heilige vierdae. Wat is die verskil tussen heilige vierdae en sabbatdae? Die enigste duidelike aanduidings in Lev.23 is dat daar op heilige vierdae geen beroepswerk gedoen word nie, terwyl sabbatdae ‘n volkome rusdag is, wanneer daar onttrek word van beroepswerk en ook soveel moontlik ander werkies voor die dag reeds klaargemaak word, of oorstaan tot later.

Nuwemane

Die nuwemane word bepaal deur die eerste stukkie sigbare nuwemaan, wat normaalweg sigbaar is binne die eerste uur na sonsondergang. Die dag waarop dit gesien word, is die eerste dag van die nuwe maan. Die viering van die nuwemaan word weerspieël met offers (sien Numeri 28:11-15) met betekenisvolle geestelike seën, soos uiteengesit in die boekie Lewende Brood uit die Hemel. Die opdragte om nuwemane te vier sluit geen Sabatdae of heilige vierdae in nie. Persoonlik maak ek gebruik van die geleentheid om vars seën af te bid op my normale werksdag en verantwoordelikhede. Ek staan baiemaal verstom om te sien hoe die Here my gebede beantwoord oor nuwemane.

Slotsom

Ek lê hierdie berekening voor u neer om self te ondersoek en te besluit watter dae die feesdae is binne ons moderne kalender. Die gebruike en hoe hierdie dae deurgebring moet word, is ook iets wat elke gelowige self moet ondersoek in die Skrifte. Mag die Here u seën met nuwe insig indien u hierdie dinge ondersoek en toepas.

Daar is redes vir die Adventiste om die Kairate kalender te volg, sodat die lig gegee by die aanvang van die Adventiste beweging, deurgaans gevolg word tot aan die einde van die wêreld. Vir meer inligting verwys ek u na die Engelse artikel deur Adrian Ebens:

https://maranathamedia.com/article/view/calculating-the-new-year-abib-barley-and-the-new-moon

Hieronder volg ‘n tabel met die opsomming van die Heilige Vierdae en die Sabbatdae. Sommige van die teksverwysings is duideliker in die King James Bible as die Afrikaanse Ou Vertaling. Die Ou Afrikaanse Bybelvertaling gebruik die woorde “rusdag” of “dag van volkome rus” om na die Hebreeuse sabbatdag [Sabbathon] te verwys.

Levitikus 23:4 Dit is die feestye van die HERE, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd.

 

Feesdag

Maand

Dag van die maand

Sabbat/Heilige Vierdag

Teksverwysings

Pasga

1ste

14de

Ongesuurde Brode

1ste

15de – 21ste dag

15de dag, 21ste dag

Heilige Vierdae

Lev 23:7,8

Pinkster

50 dae na die weeklikse Sabbat binne die Ongesuurde Brode

Heilige Vierdag

Lev 23:21

Trompette

7de

1ste dag

Heilige Vierdag en Sabbatdag

Lev.23:24; Num29:1

Versoendag

7de

10de dag

Heilige Vierdag en Sabbatdag

Lev 23:27, 32

Lev.16:31

Huttefees

7de

15 de – 22ste dag

15de dag en 22ste dag

Heilige Vierdae en Sabbatdae

Lev 23:35,36, 39