Maranatha Media: South Africa

Waarom die nuwemane vier?

gepos Jun 12, 2021 deur Nina Snyman in Worship of True God
434 Hits

Nadat ek vir die eerste keer die redes ingesien het waarom die wet van Moses nie aan die kruis vasgenael is nie, het ek ywerig die wet ondersoek, veral die feeste, om te sien waarom en hoe hierdie statute steeds onderhou kan word. Ek het op interessante teksverse afgekom wat aandui dat daar ekstra seën beskikbaar is op hierdie spesiale feesdae.

Om die weeklikse sabbat te onderhou, maak vir my sin binne die bestek van die evangelie: dis ‘n weeklikse herdenking van ons skepping deur God (Eks 20: 8-11) en dan ook ‘n herdenking van ons herskepping en ons uittog uit Egipte, uit die slawehuis van sonde (Deut 5:12-15).

Redes om die jaarlikse feeste te onderhou, was ook vir my duidelik binne die bestek van die evangelie: die Pasga, herdenk ons uittog uit die slawehuis van sonde. Dit val saam met die Fees van Ongesuurde Brode, wat ons onttrekking van sonde herdenk. Sewe weke later word die Pinksterfees gevier, wat die heiligheid van God se wet en die geestelike aspek daarvan, die uitstorting van die Heilige Gees, herdenk. In die Sewende maand word vier feeste gevier: (1) die Fees van Trompette, wat die aankoms van nuwe dinge herdenk, (2) die Versoendag, wat ons versoening van God en die oordeel wat voor die wederkoms plaasvind, gedenk. Die laaste en grootste fees van die jaar is die Huttefees, wat weereens die uittog uit die Slawehuis (Egipteland) en die verblyf in die woestyn, gedenk. Dit wys tans vir ons vooruit na die wederkoms van Christus.

Baie meer redes kan uitgestip word vir die onderhouding van feeste. Die feeste word deur die Bybelse profesieë gebruik om die belangrikste gebeure van God se interaksie met die mens, om sy verlossing te bewerkstellig, uiteen te sit. Die Pasga verwys na die kruisiging van Christus, die Pinksterfees verwys na die uitstorting van die Heilige Gees, die Fees van Trompette verwys na die begin van die tien jaar tydperk voor 1844 toe die hele wêreld gehoor het van die moontlikheid van die wederkoms sou plaasvind. Die Versoendag verwys na die gebeure wat binne die heiligdom plaasgevind het, toe Christus geweeg het vanaf die Heilige Plek na die Allerheiligste om Sy laaste voorbereidingswerk te voltooi voor die wederkoms. Die Huttefees verwys na die gebeure rondom die finale werderkoms van Christus.

Een van die belangrikste redes om God se spesiale dae te vier, is die aspek van die rus binne ons kindskap van God: Ons het die voorreg om deel te hê aan die rus wat Christus aan die boesem van Sy Vader ervaar.

Exodus 31:17 Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.

Die Hebreeuse woord vir verkwik beteken in die letterlike sin om te blaas. Dit kan verbind word met die gebeurtenis toe Jesus na sy opstanding op sy dissipels geblaas het.  Dit kan ook verbind word met die diep asemteue wat mens inneem wanneer jy teen iemand wat jy liefhet se bors leun. Hierdie diep rustigheid word beskryf in Johannes 1:

Johannes 1:18 Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.

Dus is daar vir ons ‘n rus binne die aspek van die feesonderhouding wat ons diep laat drink van die water van die lewe.

Johannes 7:37-38 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!  (38)  Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.

Redes vir Viering van die Nuwemane

Een van my eerste vrae omtrent die onderhouding van die feeste van die Here, was waarom die nuwemane gevier moet word. Ek het gesukkel om die evangelie te pas op die viering van die nuwemane. Ek het ook gesukkel om die wyses waarop die nuwemane gevier moet word, te vind in die Bybel. Daar is duidelike aanduidings omtrent die weeklikse en jaarlikse Sabbatsonderhoudings, maar baie min omtrent die nuwemane.

Die enigste duidelike aanduidings hoe om die nuwemane te vier, is die offers wat gebring word sodra die nuwemaan sigbaar is. Dit word beskryf in Numeri 28.

Numeri 28:11-15 En by die begin van julle maande moet julle ‘n brandoffer aan die HERE bring: twee jong bulle en een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;  (12)  en drie-tiendes van ‘n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke bul, en twee tiendes fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir die een ram;  (13)  en een-tiende fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke lam. Dit is ‘n brandoffer, ‘n lieflike geur, ‘n vuuroffer aan die HERE.  (14)  En hulle drankoffers moet wees ‘n half-hin wyn vir ‘n bul en ‘n derde van ‘n hin vir ‘n ram en ‘n kwart-hin vir ‘n lam. Dit is die brandoffer by elke nuwemaan, vir die maande van die jaar.  (15)  Ook moet een bokram as sondoffer aan die HERE berei word, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort.

Die betekenisse van hierdie brandoffers en die bygaande spysoffers word in die boekie Lewend Brood uit die Hemel uiteengesit. Daar is op die eerste dag wanneer die nuwemaan sigbaar is, omtrent 8 maal meer brood in die heiligdom beskikbaar as op ander dae van die maand. Die brood in die heiligdom verwys na die Woord van God, wat dan in groter mate beskikbaar is vir ons om dit in te neem.

Numeri 10:10 Op die dag as julle vrolik is, sowel as op julle feestye en by die begin van julle maande moet julle by jul brandoffers en by jul dankoffers op die trompette blaas: hulle sal dien om julle in gedagtenis te bring voor die aangesig van julle God. Ek is die HERE julle God.

Daar kan dus op die trompette geblaas word op nuwemane. Die blaas van trompette word vereenselwig met twee dinge: (1) om die mense byeen te roep, en (2) as ‘n waarskuwing vir dreigende oorlog.

Numeri 10:1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:

Numeri 10:2-10 Maak vir jou twee silwertrompette; van dryfwerk moet jy dit maak; en hulle moet vir jou dien om die vergadering byeen te roep en om die laers te laat opbreek.  (3)  As hulle dan daarop blaas, moet die hele vergadering by jou byeenkom by die ingang van die tent van samekoms.  (4)  Maar as hulle op een daarvan blaas, moet by jou byeenkom die owerstes, die stamhoofde van Israel.  (5)  En as julle alarm blaas, moet die laers opbreek wat aan die oostekant staan.  (6)  Maar as julle die tweede keer alarm blaas, moet die laers opbreek wat aan die suidekant staan. Alarm moet hulle blaas as hulle moet opbreek.  (7)  Maar as die vergadering byeen moet kom, moet julle blaas, maar nie alarm maak nie.  (8)  En die seuns van Aäron, die priesters, moet op die trompette blaas; en dié trompette moet vir julle ‘n ewige insetting in julle geslagte wees.  (9)  En as julle in jul land in oorlog kom teen die vyand wat met julle veg, moet julle met die trompette alarm blaas; dan sal aan julle gedink word voor die aangesig van die HERE julle God, en julle sal van jul vyande verlos word.  (10)  Op die dag as julle vrolik is, sowel as op julle feestye en by die begin van julle maande moet julle by jul brandoffers en by jul dankoffers op die trompette blaas: hulle sal dien om julle in gedagtenis te bring voor die aangesig van julle God. Ek is die HERE julle God.

Daar is twee insidente in die Ou Testament wat verwys na die nuwemaan. Een vertel van ‘n buitelandse vrou, ‘n Sunamitiese vrou, wat die man van God gereeld gaan besoek het. By een geleentheid het sy haar man laat weet dat sy die profeet gaan besoek. Toe haam man haar uitvra waarom sy na die profeet toe gaan, gee hy ‘n aanduiding dat sy normaalweg op sabbatte en op die nuwemane besoeke bring aan die profeet:

2 Konings 4:22-23 Daarop roep sy haar man en sê: Stuur tog vir my een van die dienaars met een van die eselinne, dat ek gou na die man van God kan gaan en terugkom.  (23)  En hy sê: Waarom gaan jy vandag na hom? Dit is geen nuwemaan of sabbat nie. …

Die vrou het dus geweet dat daar rede is om na die woorde van die profeet te luister op sabbatdae en op nuwemane. Sy het meer waarde geheg aan sy woorde tydens die spesiale vierdae van die Here.

Nog ‘n insident wat op ‘n nuwemaan gebeur het, is die vlug van Dawid uit koning Saul se paleis:

1 Samuel 20:5 Toe sê Dawid vir Jónatan: Kyk, môre is dit nuwemaan, en ek moet sekerlik met die koning saam aansit om te eet; maar laat my gaan, dat ek my wegsteek in die veld tot oormôre-aand.

Die res van die hoofstuk vertel hoedat koning Saul kwaad geword het vir Dawid in sy afwesigheid en oorreageer het sodat Jonatan Dawid gewaarsku het om glad nie terug te keer na die paleis nie. Hier word verwys na ‘n drie dae tydperk oor die nuwemaan. Vir my wys dit daarop dat koning Saul op ‘n wettiese wyse wou seker maak dat hy die nuwemaan korrek vier, en het bes moontlik die dag voordat  die nuwemaan sigbaar is, en die dag na die nuwemaan ingesluit om seker te maak hy dek die nuwemaan volledig. Nogtans word daar in Numeri 28 (voorheen aangehaal) net op een dag van die nuwemaan ‘n offer gebring, sodat die spesiale tyd wel net deur een dag gedek word.

Daar word aangedui dat die nuwe tempel, wat aan die einde van tye gebou sal word (dit sal bes moontlik ‘n geestelike tempel wees) oop deure sal hê op Sabbatdae en op nuwemane.

Esegiël 46:1 So sê die Here HERE: Die poort van die binneste voorhof wat na die ooste kyk, moet gedurende die ses werkdae gesluit wees; maar op die sabbatdag moet dit oopgemaak word; ook moet dit op die dag van die nuwemaan oopgemaak word.

 

Goddelike patroon van die nuwemaan

Die son word gebruik om die tyd van die weeklikse sabbat aan te dui. Elke sewende sonsondergang kondig die begin van die weeklikse sabbat aan. Dit is belangrik om hier te sien dat die teenwoordigheid van die sewende dag nie deur die natuur aangedui word nie. Dit word aan die mens oorgelaat om die sewe dae te tel na die volgende sabbatdag. Dit dui op die keuse wat God ons gee om die sabbat te onderhou. Dit is die basis van liefde binne ‘n verhouding: eie keuse om deel te neem aan die viering daarvan.

Die nuwemaan word deur die maan aangedui. Indien daar ‘n goddelike patroon is tussen die verskillende feestye, soos genoem in Lev 23, dan is die weeklikse sabbatdag, aangedui deur die groter lig, die son, die bron van die feesdae, en die ander feesdae is die kanaal van die feeste. Die ander feesdae is ‘n vergroting of verheerliking van die weeklikse fees, die sabbatdag. Dit is ‘n uitbreiding of verlenging van die weeklikse sabbat. Sonder die weeklikse sabbat maak die ander feesdae nie sin nie.

Hoe om die nuwemane te vier

Die wyse waarop die weeklikse en jaarlikse feesdae gevier word, is in Lev.23 uitgeengesit, met aanduidings dat alle beroepswerk gestaak moet word. Sommige van hierdie jaarlikse feesdae is ook volwaardige sabbatdae, waarop daar geensins gewerk word nie. Daar is nie soortgelyke aanduidings omtrent die viering van die nuwemaan nie. Daarom is ek van oortuiging dat dit aan elkeen oorgelaat word om ‘n keuse te doen omtrent die viering van die nuwemaan op ‘n gepaste wyse. Die viering word gedoen binne ‘n nou verhouding met God, aangesien dit ‘n spesiale tyd van ontmoeting is met 8 maal meer brood wat beskikbaar is binne die heiligdom. Dit dui op 8 maal groter beskikbaarheid van die Woord van God en groter kapasiteit in ons om God se Woord te internaliseer. Die Woord van God word soos ‘n saad binne ons geplant om te groei tot karakterontwikkeling, sodat ons soos ons hemelse Vader kan word. Jesus het die Woord van God met saad vergelyk in Sy gelykenis van die saaier. (Lukas 11:8). Op ‘n ander geleentheid het Hy ook die koninkryk van God vergelyk met die reaksie van saad wat in grond gesaai word.

Markus 4:26-29  En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer ‘n mens die saad in die grond gooi;  (27)  en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot—hoe, weet hy self nie.  (28)  Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die volle koring in die aar.  (29)  En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.

Matt. 5:48 Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

Party afgetredens gebruik hierdie tye soos ‘n sabbatdag, aangesien hulle nie meer toegewy is aan ‘n werk vir ‘n inkomste nie. Ekself staan huidiglik binne ‘n besige tyd van my lewe met toewydings waarmee ek ‘n inkomste verdien, asook ‘n huishouding wat daaglikse take vereis. Ek gebruik hierdie spesiale tye van die nuwemane om spesiale seën af te bid op my werk en my besluite en my interaksie met ander mense, sodat ek die geleenthede sal raaksien om teenoor hulle te getuig van my verhouding met God.Ek glo ook ander mense toon ‘n groter bereidheid om ‘n getuienis te aanvaar wanneer dit aan hulle gegee word tydens die nuwemaan as tydens ander tye van die maand, aangesien God die beginsel uiteengesit het in die heiligdom. Die natuur weerspieël hierdie geestelike beginsels deur die nuwemaan, wat gebeur deurdat die son en die aarde en die maan in een lyn kom. Sien die boekie Die Goddelike Patroon van die Lewe vir meer inligting.

Ons sal in die nuwe hemel en op die nuwe aarde weer die weeklikse sabbat as ‘n spesiale aanbiddingsdag gebruik, asook die nuwemane. Dit sal bes moontlik die tye wees wanneer ons van die boom van die Lewe sal eet, om die genesing daarvan in te neem.

 Jesaja 66:23 En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE.

Openbaring 22:1-2 En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam.  (2)  In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.

Ons het nou reeds die voorreg om maandeliks voor die Here te kom vir spesiale gebede en aanbidding en bestudering van die Woord, tot ons genesing.