Kan God berou toon?

gepos Jun 09, 2021 deur Nina Snyman in Karakter van God

Vir ons as mense gaan die gevoel van berou oor sonde saam met ‘n sekere mate van hartseer en smart wat die sonde meebring. Aangesien God buite die ervaring van sonde staan, klink dit heeltemal aanvaarbaar dat God geen berou sal toon oor enigiets wat Hy ooit gedoen het nie.

Daar is twee stories in die Ou Testament wat aandui dat God geen berou toon soos die mensekinders nie. Die eerste geval is tydens die oproep van koning Balak aan die profeet Blileam om die Israeliete te vervloek.

Num 23:19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Die tweede geval is tydens die laaste ontmoeting van die afvallige koning Saul en die profeet Samuel:

1Samuel 15:29 En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.

Kan God berou toon en smart in Sy hart hê?

Gen 6:6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.

Watter smart in die hart van God?

Isa 53:4 Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.

God dra dus ons smarte wat ons oorkom as gevolg van ons eie sonde en krankhede. Hy voel saam met ons elke keer as ons gebroke voor Hom kom om sonde te bely.

Kom ons ondersoek die twee verhale om uit te pluis waarom die Here nie in hierdie twee gevalle berou getoon het nie.

1.Die Verhaal van Bileam

Uit die mond van Bileam word aangetoon dat God geen berou toon nie:

Num 23:19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Bileam was ‘n profeet van God wat geleef het tydens die Israeliete se omswerwinge deur die woestyn op pad na die Beloofde Land. Bileam is deur koning Balak genader om die Israeliete te vervloek, as versekering vir sy eie volk se voortbestaan. Die verhaal van Bileam se pratende donkie is opgeteken in Numeri 22, die gevolglike stryd tussen Balak en Bileam is beskryf in Numeri 23 en 24.

Ons sal Bileam se gesindheid teenoor sy werk as profeet opweeg teen Christus se gesindheid ten opsigte van Sy werk wat Hy op aarde kom doen het. Beide het opgetree in opdrag van die Vader.

Bileam se gesindheid:

Aanvanklik was daar duidelik opdrag gegee aan Bileam:

Num 22:12 Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.

Na die insident met die pratende donkie, kry Bileam die volgende opdrag:

Num 23:5 Toe lê die HERE ‘n woord in Bíleam se mond en sê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek.

God gee daarna duidelike seën op die Israeliete. Bileam se reaksie is skouer-ophalend:

Num 23:20 Kyk, ek het ontvang om te seën; en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie.

Bileam ontneem van homself die seën van koning Balak, deur aan die Here gehoorsaam te wees:

Num 24:10-11 Toe het Balak baie kwaad geword vir Bíleam en sy hande saamgeslaan, en Balak het aan Bíleam gesê: Ek het jou laat roep om my vyande te vloek, en kyk, jy het nou al drie maal net geseën!  (11)  Trek dan nou gou na jou woonplek! Ek het gesê dat ek jou hoog sal vereer; maar kyk, die HERE het jou van verering teruggehou.

Dit blyk dat Bileam die seën van die koning Balak meer geag het as die seën van die Here. Latere terugblik op hierdie insidente word gegee nader aan die einde van die boek Numeri:

Num 31:16 Kyk, hulle was, deur die raad van Bíleam, vir die kinders van Israel ‘n oorsaak van troubreuk teenoor die HERE in die saak van Peor, sodat die plaag in die vergadering van die HERE was.

Die plaag waarna verwys word, word beskryf in Numeri 25.

Verdere terugblik vanuit die Nuwe Testament op die gesindheid van Bileam:

Open 2:14 Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.

Dis hartseerom te sien hoe die gesindheid van Bileam weggedraai het van getrouheid teenoor God.

Gesindheid van Christus:

Die Ou Testament gee ‘n profesie van die bediening van Christus, dat Hy sal spreek volgens die woorde van God in Sy mond lê.

Deut 18:18 ‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.

Dit lyk na dieselfde scenario as Bileam, maar Christus se reaksie is anders as Bileam s’n.

Joh 5:30 Afrikaans OV  Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.

Joh 14:24 Afrikaans OV  Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

Christus se bediening was nie ter wille van enige seën of eie gewin nie. Hy het bloot sy Vader se karakter aan ons kom openbaar. Hy het erken dat Hy niks uit Homself kan of wil doen nie.

Dit is in teenstelling van die gesindheid van Bileam wat in sonde verval het, tot op die punt waar Bileam die stelling maak dat God geen sonde doen en geen berou toon soos mense nie. Dit wil voorkom of hierdie stelling gemaak word deur ‘n profeet wat aanvanklik gereken is as ‘n profeet van God, maar wat afvallig geword het van God.

 

2.Koning Saul

1 Samuel 15:29 En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.

Dit is dieselfde woorde as wat deur Bileam uitgespreek is. Die geleentheid is die laaste geleentheid wat koning Saul gehad het om berou te toon vir sy sonde, maar sy sonde was reeds op ‘n baie ver gevorderde stadium van ontwikkeling. Saul oorwin die Amalekiete, in opdrag van God, (beskryf in die boekie Oorwinning in Kanaan) maar die bloedvergieting in daardie opdrag was bedoel om koning Saul insig te gee in sy eie sondige hart. Ongelukkig was hierdie beroep op Saul nie suksesvol nie. God het ALLES probeer om Saul se hart te draai na Hom, maar niks het gehelp nie. Vroeër in dieselfde hoofstuk as die vorige vers word die volgende stelling gemaak omtrent die berou van God:

1 Samuel 15:11 Ek [God] het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie. Toe het Samuel kwaad geword en die hele nag deur die HERE aangeroep.

God sou Samuel se gebed verhoor het, indien daar enigiets was wat God kon doen, maar Hy tree NIE in om ons eie vrye wil teen te staan nie. Hy gee dit aan ons. Dis die basis waarop ware liefde rus: vrye wil om te kan gee. Sodra ons dan op ‘n plek kom waar ons God ervaar as hard en onberoulik, word ons siening van God ‘n weerspieëling van ons eie gemoed en gesindheid. Ons het self onberoulik geword omtrent ons sonde, daarom sien ons God as Een wat onberoulik is oor sonde.

God staan buite sonde, daarom is Hy in staat om ons uit ons pad van sonde te lei na Sy rus en vrede.

God se ekonomie

God se ekonomie berus op versoeke wat vergun word, indien dit vanuit ‘n hart kom wat oorgegee is aan Sy wil.

Matthéüs 7:7 Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.

God loop ‘n pad met elkeen van ons. Hierdie pad word beskryf in die volgende twee stelle teksverse:

  1. Spreuke 1:20 - 33
  2. Psalms 107

Maleagi 3:6 Want Ek, die HERE, het nie verander nie …

Rom 11:29 … die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.

God se beroep wat Hy op ons doen sal nooit verval nie. Die seën wat Hy ons gee, sal altyd beskikbaar wees. Ons kan wel kom op ‘n punt wat ons so ver gegroei het van Hom, dat dit vir ons lyk na ‘n onoorbrugbare kloof tussen ons en God. Nogtans het God steeds gewilling om aan ons genadegawes mee te deel en gee Hy steeds die roeping aan ons om terug te kom.  

Jak 1:17 Afrikaans OV  Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.